Leer ken iets stadig om dit lief te kry

Leer ken iets stadig om dit lief te kry
Deur Annemarie van der Walt 18 Februarie 2016 11:51 Netwerk 24

Die gesegde “briek aandraai” het die afgelope naweek opnuut betekenis gekry toe op ou waspore deur die Laeveld gereis is.

Lank voordat die son sy wenkbroue oor die Lebomboberge in die ooste gelig het, is ’n lang konvooi motors met lede van die Mpumalanga- geskiedkundige belangegroep die teenoorgestelde rigting in, Lydenburg toe, met die mikpunt om die eerste merker van die Jock van die Bosveld-roete te vind en van daar merker vir merker tot in Pretoriuskop te vorder.

Dit was die haastigste wat in drie dae gereis is, want met die omdraaislag is iets gewen aan ’n tydsaamheid van toe sir Percy FitzPatrick en ander transportdrywers in omstreeks die 1880’s elke knokkelrige knik oor ’n heuwel of deur ’n drif met wa en osse aangedurf het al in die rigting van Delagoabaai.

Dit klink so verraderlik eenvoudig, dié roete. Want jirts ons onrustige moderne skepsels dan nie sommer vir ’n Sondaguitstappie heen-en-weer oor Rowerspas by Pelgrimsrus of ry gou vir inkopies twee keer ’n dag verby Leeukop tussen Witrivier en Hazyview nie? En toe neem die 103 km lange skof ons ’n ganse dag lank, en jy maak somme en besef dit sou Fitz­Patrick en sy trawante sowat twee weke geneem het. ’n Ver­soberende gedagte.

Jy kyk met ander oë na elke granietkop en donga, spruit en lappie skaduwee. En wens op ’n manier vir die luukse om teen die spoed van geduldige osse se hoefslae deel te word van ’n landskap: Hier blom ’n sku veldblom, daar is ’n byenes teen ’n krans, en ­onder ’n struik die lêplek van ’n duikerlam.

Jy maak jou oë toe en verban die sogenaamde beskawing vir ’n oomblik: Pelgrimsrus se gekaapte, verlate nostalgie; Sabie se begraafplaas waar siele omgewe met slordigheid moet dwaal; die groen woestyne van bloekomplantasies, en versnipperde boerderye waar die ou plaasname in restante verstedelik. Jy dink jou ín die vergane ooptes in.

In die hitte van ’n witwarm Laeveldse dag wat teen jou skouers skroei, maak jy ook so skelm naskrif tot jou verbeelding: Ja, dit sou gaaf wees om so te reis, mits jy dit as vrou darem met ’n strêppie-toppie pleks van ’n sisrok kon doen. ­Asseblief tog ook ys in jou elfuurteetyd se blik­beker vol gin en tonikum.

En soos die konvooi drie dae lank op mekaar se buffers ry, snap jy ook in ’n ligte oomblik dat die geskiedenis dalk minder met groot politiek uit te waai het en eerder met die subtiele verskille in mense se onderskeie aard. Was die trippie drie weke of maande lank, was daar sweerlik mettertyd afgestig en het ons klomp elkeen die roetemerkers van die ou wapad uit ’n eie rigting benader.

Soms kry ’n mens die kans om terug te loop op die verlede se spore en moet jy dit aangryp. Die Amerikaanse skrywer Wendell Berry se woorde is dan geldig: “We (come to) love what we particularly know.” Só ’n sin van plek is bloot makliker om te vind wanneer ’n mens verlangsaam; briek aandraai.

Annemarie se oupa se name was Machiel Andries vd Walt (1899-1983), getroud met Aletha Elisabeth Van der Walt (nee Van der Walt) (1910?-1994). Hulle het gewoon in Sannieshof. Sy stam van die stamvader se seun Tjaart af.