Haaie sonder vuurvreter Van der Walt

deur Christo Buchner Netwerk 24 05 April 2016 00:00

Die Haaie het ’n gevoelige terugslag beleef vir Saterdag se Super-stryd teen die Leeus op Kingspark in Durban.

Die vurige rooikop-losvoorspeler Phillip van der Walt sal weens ’n nekbesering nie beskikbaar wees nie.
Van der Walt, wat ewe tuis is op agtsteman as langs die kant van die skrum, het die besering opgedoen in die nederlaag teen die Crusaders twee weke gelede.
Hy het die veld op ’n draagbaar en met ’n nekstut verlaat.
Hoewel hy met sy duim in die lug kon wys toe hy met ’n gholfkarretjie van die veld geneem is, is die besering sodanig dat hy nie teen die Leeus kan speel nie.
Die Haaie sal sy vurigheid mis, want hy was in die gelykop-uitslag teen die Bulle in Pretoria die Speler van die Wedstryd.
Die agtsteman Daniel du Preez, wat Van der Walt vervang het en later ’n heupbesering opgedoen het, oefen darem vandeesweek saam met die span en sal oorweeg word.
Hy behoort Van der Walt se plek in die nr.8-trui in te neem.
Nog twee spelers wat ligte beserings opgedoen het teen die Crusaders, die slot Etienne Oosthuizen en die vleuel Lwazi Mvovo, is albei fiks om die Leeus te pak.
Robert du Preez, die pa van die tweeling-losvoorspelers, Daniel en Jean-Luc, asook die hulpafrigter van die Haaie, het Maandag gesê hy verwag ’n intense tweestryd.
“Daar is geweldig baie op die spel. Nie net word daar gestoei om die boonste plek in ons groep nie, maar ’n sege sal belangrik vir ons selfvertroue wees voordat ons na Nieu-Seelandse vertrek.
“Ons het drie baie moeilike wedstryde in Nieu-Seeland teen die Blues, Chiefs en Highlanders. Daarom moet ons onsself ’n hupstoot gee deur die Leeus te klop,” sê Du Preez.
Hy sê die spelers is gretig om weer te speel nadat hulle verlede naweek ’n loslootjie gehad het.
“Ons batterye is gelaai en ons is gereed. Die Leeus is die span met die beste spelpeil in die land en is werklik indrukwekkend. Daar is heelwat energie in ons kamp, wat nodig sal wees om die Leeus tot oorgawe te dwing,” sê hy.