Nuwe voorsitter van die NWKV

Hoewel wolproduksie in etlike van die Oos-Kaap se belangrikste produksiegebiede die afgelope jaar baie swaargekry het weens die knellende droogte, het produksie in die provinsie slegs met sowat 2% gedaal, sê HB van der Walt, die nuwe voorsitter van die nasionale wolkwekersvereniging (NWKV Oos-Kaap).
Goeie reëns in baie van die droogtegeteisterde gebiede het reeds groot verligting gebring. Suid-Afrika produseer sowat 50 miljoen kg per jaar, waarvan die Oos-Kaap ongeveer 40% produseer. Vooruitsigte vir wol is baie positief, pryse bly op hoë vlakke en die Suid-Afrikaanse produk bly in groot aanvraag regoor die wêreld, en wolboere kan gevolglik die nuwe seisoen met optimisme binnegaan, veral as daar goeie reëns in die oorblywende droë dele sou val. “Die droogte het wel veroorsaak dat daar meer breekwol geproduseer is as ander jare en die skoonopbrengs mag dalk ‘n bietjie laer wees. Die gemiddelde mikrons is nie noodwendig laer nie. “Wolpryse is baie stabiel ten spyte van die Rand wat baie wissel teenoor die dollar. Die vraag na goeie kwaliteit wol is steeds baie goed en daar is nêrens opgehoopte, of oortollige, voorraad nie. As jy wol wil hê moet jy dit op ‘n veiling koop,” aldus Van der Walt.
Op die 28-ste en laaste wolveiling van die 2015/16 seisoen, Woensdag, het pryse met 1,3% gedaal, terwyl die Cape Wools se merino wolmarkaanwyser met 198 punte gesak het en op R155,70/kg skoonwol gesluit het. Van die 11 408 bale wat aangebied is, is 11 270 bale (98%) verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool (3172 bale), Lampriere Suid-Afrika (3 043 bale) en G Modiano (2 587 bale). Kopers het gemeld dat die vraag swakker was, maar dat hulle ‘n groter afname verwag het. Daar sal aanstaande week geen veiling wees nie. Die volgende veiling, die eerste van die nuwe seisoen, is geskeduleer vir 13 April 2016.


Somerset Budget 7 April 2016 This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Foto: Lourens Schoeman