Hoe lyk dit met 'n nier?

“Hoe lyk dit met ‘n nier ou bul?” Tjaart van der Walt (21) het agter sy huis op ‘n plaas by Groblersdal gestaan toe hy sy beste vriend in die Paarl bel en die nuus met hom deel: Hy wil hom ‘n nier gee, “Ou, waarvan praat jy?” het Greaton Martins (21) gevra.

“Ek het gedog hy is net laf en maak dalk ‘n grap,” vertel Greaton aan die eetkamertafel in sy ma Yolanda, se meenthuis in Paarl.

Dit is omtrent ‘n jaar na daardie oproep. Sy donker oë blink toe hy geesdriftig oor die pad tot hier praat.

‘n Mens hoor selde van so ‘n besonderse vriendskap. Geaton en Tjaart se storie is die verhaal van twee seuns wat aanvanklik glad nie oor die weg gekom het nie: Tjaart was ‘n rakker wat Geaton gespot het omdat hy heeldag Bybel lees. Mettertyd het Tjaart tot bekering gekom en die twee het saam begin Bybel lees.

Eindelik het Tjaart besluit om een van die grootste opofferings te maak wat ‘n mens vir jou vriend kan maak.

Hy het ‘n deel van sy liggaam geskenk om Geaton, wat aan nierversaking gely het, te help.

Die twee het mekaar ontmoet toe Greaton in gr. 11 aan die Hoër Jongenskool Paarl begin skoolgaan. Hy het saam met sy ma en jonger broer, Kenau (18), van Pretoria daarheen verhuis. Sy pa, Francois, is oorlede toe Greaton vier jaar oud was.

“Ek het aan die begin gedink Geaton is ‘n bietjie vreemd”, vertel Tjaart telefonies uit die Noord-Kaap. Hy was op skool ‘n kranige krieket – en hokkiespeler.

Die twee seuns was beslis nie vriende nie, “Ons het eintlik niks van mekaar gehou nie. Ek het gedink hy is net windgat.” vertel Geaton, wat in vry periodes graag Bybel gelees het. “Dan het Tjaart en ander ouens my gespot en met goed gegooi. Maar die Here het dit op my hart gelê om vir Tjaart te bid.

Een aand, maande later, het Tjaart na dieselfde kerk gegaan as wat Geaton graag bygewoon het.”Ek het eintlik agter ‘n meisie aan gegaan”, erken Tjaart verleë. Maar daardie aand het hy tot bekering gekom,”Geaton was baie betrokke by die kerk en so het ons vrienskap begin. Naderhand het ek saam met hom in die klas gesit en Bybel lees,” sê Tjaart.

Maar teen die einde van gr. 11 het ‘n onverwagte ramp Geaton se jong lewe in gevaar geplaas, “Ek het my laaste vak vir die eindeksamen geskryf: Afrikaans, onthou hy, “Ek het huis toe gestap, toe ek hier kom, word ek flou. Ek is Paarlhospitaal toe en is later na die Medicclinic Cape Gate (in Kaapstad se noordelike voorstede) oorgeplaas om bloedoortappings te kry, “Dit was ‘n harwar waarvan hy nie baie kan onthou nie.

Nierversaking is by hom gediagnoseer. Pleks van swem of rugby speel soos hy altyd graag gedoen het, moes Geaton nou elke tweede dag vier uur dialise kry om sy bloed te suiwer omdat sy niere dit nie meer kon doen nie. Gevolglik moes hy dikwels skool misloop.

“As jy nie dialise kry nie, gaan jy dood”. sê hy en haal sy skouers op. Op lang termyn sou net ‘n nieroorplanting hom aan die lewe kon hou.

Dit was vir Tjaart sleg toe hy sien hoe sy nuwe, wat eens so aktief was siek word.

Na matriek is Tjaart terug Noord-Kaap toe om te gaan boer. Geaton het in die Paarl gebly om op Wellington aan die Timothy Ministry Training teologie te studeer. Die twee vriende het kontak behou en mekaar af en toe vroegoggend gebel om saam te bid, “Ons het saam gebid dat Geaton ‘n skenker kry,” sê Tjaart.

Min het Tjaart toe besef hy gaan die oplossing wees waarvoor hulle gebid het.

Nie sommer enigiemand se nier kan geskenk word nie; doktors moet eers toetse doen om seker te maak die skenker se nier is versoenbaar met die onvanger se liggaam.

Omdat hulle nie familie is nie, het Tjaart aangeneem hy sal nooit ‘n geskikte skenker wees nie.

Verlede jaar het Tjaart op Upington deur ‘n winkelsentrum gestap toe hy skielik besluit om bloed te skenk en vas te stel wat sy bloedgroep is. Sonder om te weet wat Geaton s’n is, het Tjaart ‘n voorgevoel gehad hulle s’n gaan ooreenstem. ‘n Paar dae later het Tjaart Geaton gebel en hom sy nier aangebied.

En toe hy na Geaton se bloedgroep vra, was dit dieselfde. Nog toetse moes volg om seker te maak Tjaart sal ‘n geskikte skenker wees, maar die bal was aan die rol en Tjaart vasbeslote om sy vriend te help. Dit het maande geduur, maar al die toetse het positief teruggekom.

Op 5 Junie is die twee vriende in die Netcare Chris Barnard – gedenkhospitaal in Kaapstad opgeneem. In dieselfde kamer het hulle langs mekaar gelê en wag dat 6 Junie, die dag van die oorplanting, aanbreek.

“Dit het vir my soos Boishaai se interskole gevoel, soos die opbou na ‘n groot wedstryd. Jy is opgewonde, maar jy stres ‘n bietjie, want jy weet dit wat hier gaan gebeur is groter as wat jy is,” sê Tjaart.

Geaton het onrustig geslaap. “Jy is bang. Jy wonder of die nier gaan ‘vat’ (versoenbaar wees), want daar is steeds ‘n kans dat dit nie gaan werk nie,” sê hy.

Vroeg die volgende oggend is Tjaart geopereer en daardie middag was dit Geaton se beurt. “My operasie was baie moeilik; dit het omtrent ses uur geduur,” sê hy. Maar toe hy na die operasie in die waakeenheid wakker word, kon hy voe liets in sy lyf is anders.

“Ek het pyn gehad en was kortasem, maar kon voel hier is iets aan die gebeur. In die vorige drie en ‘n half jaar het ek nooit soveel energie gehad nie.

Dit is eintlik ‘n amazing gevoel om te weet ek dra ‘n stukkie van Tjaart met my saam. Maar hy het gesê ek moenie daaraan dink as sy nier nie – ek moet dit as myne beskou.”

Nier2


Tjaart is drie dae later ontslaan en Geaton nege dae later. Hy gebruik medikasie om te keer dat sy liggaam die nier verwerp, “Daar is pille wat ek vir die res van my lewe moet gebruik, maar dis beslis beter as om dialise te kry.”

Tjaart is glad nie bekommerd daaroor om nou net een nier te hê nie.

“Ek is dieselfde mens as voor die operasie. Eintlik voel ek op ‘n vreemde manier beter; ek voel heel nuut.”

Op sy beurt sê Geaton: “Ek is so dankbaar teenoor hom,”Hy is opgewek en sy gesig verhelder,Ek kan eindelik op my roeping fokus: die bediening. Ek het skielik soveel tyd, want ek hoef nie meer vir dialise te gaan nie”

Hy droom daarvan om te swem en uitreikwerk te doen. En hy kan nie wag om vir Tjaart,sy beste vriend en “bloedbroer”’ op die plaas te gaan kuier nie.

Huisgenoot 6 Julie 2017, deur Charlea Sieberhagen