Gemaskerde Wonder Sterf na Sware Lyding

Johannes van der Walt, beroemd as die Gemaskerde Wonder of "Masked Marvel", was ’n kampioenstoeier en hoof-generaal van die Ossewabrandwag aan die Witwatersrand. Hy word beskryf as die "groot Afrikanersportheld van die jare dertig".

Van der Walt is op 9 Oktober 1908 op die plaas Witkoppen in die distrik Johannesburgas as die derde van die nege kinders van Jan Hendrik van der Walt (1883–1951) en Hester Jacoba Levina Johanna van Riet (1888–onbekend) gebore.
JohannesOuers1



A.J. van der Walt, ouderling te Colesberg tydens die afskeiding van die Gereformeerde Kerk. Hy was bes montlik Johannes van der Walt se oupagrootjie (Cradock, 22 Augustus 1807 – distrik Middelburg, Kaap, 29 November 1880), die vader van Andries Johannes van der Walt (1833–1905), Johannes se oupa aan vaderskant.

Op aanbeveling van ’n medetrembestuurder het Van der Walt, wat tot in daardie stadium nie baie gesond was nie weens ’n ernstige hartkwaal (volgens ’n ander bron ’n maagkwaal), in sy vroeë twintigerjare begin liggaamsoefeninge doen en mettertyd deur die vasberadenheid en veggees wat hom lewenslank sou kenmerk, sy liggaam so goed ontwikkel dat hy aan stoei kon deelneem.
JohannesVaderBroers1



Jan Hendrik van der Walt en drie van sy seuns, Johannes, Andries en Jan Hendrik.

As lid van die YMCA-stoeiklub het hy in 1932 aan die Olimpiese proefwedstryde deelgeneem, maar nie die Springbokspan gehaal nie. Ses maande later het hy die Suid-Afrikaanse amateurswaargewigtitel gewen en in skermoefeninge teen drie Amerikaanse beroepstoeiers so goed gevaar dat hy in 1934 onder die promotorskap van Henri Irslinger beroepstoeier geword het.

Omdat Afrikaans en Afrikaanssprekendes destyds dikwels in die samelewing ’n minderwaardige plek beklee het, het Irslinger besluit om Van der Walt met ’n masker te laat stoei en so sy Afrikaanse identiteit geheim te hou.

Dit was ook ’n geslaagde reklameset en die Gemaskerde Wonder ("Masked Marvel") het spoedig groot gehore begin trek. Sy bekendste aanvalswapen was die volstruisskop wat hy by die Amerikaner "Jumping Joe" Savoldi oorgeneem en vervolmaak het.
JohannesvdWalt2



Van der Walt, die grootste Afrikanersportheld van die jare 30.

In 1935, 15 maande ná sy toetrede tot die beroepskryt, het hy hom vrywillig ontmasker nadat geeneen van sy teenstanders hom met twee valle kon klop nie, ’n voorwaarde vir sy ontmaskering. Daarna het hy talle stoeiers van formaat onder sy eie naam geklop. In 1937 het hy en Irslinger ’n toer deur Europa en die VSA onderneem en van die 37 gevegte waaraan Van der Walt deelgeneem het, het hy 34 gewen, twee het gelykop geëindig, terwyl hy teen die destydse swaargewigkampioen van die wêreld, Jim Londos van Griekeland, voor ’n skare van 95 000 in Athene verloor het.

Terug in Suid-Afrika het sy oorwinning oor die Australiër George Pencheff op 11 April 1938 hom laat deurdring tot ’n geveg om die swaargewigtitel van die Britse Ryk, wat hy op 26 November teen die Kanadees Earl McCready verloor het. In Julie 1940 het sy stoeiloopbaan geëindig ná 184 gevegte waarvan hy 111 gewen en 21 verloor het, terwyl 52 gelykop geëindig het.

Dit was danksy Van der Walt se gewildheid dat beroepstoei in 1938 die tweede sportsoort geword het wat Gideon Roos namens die SAUK regstreeks in Afrikaans uitgesaai het nadat hy in dieselfde jaar die eerste uitsending van ’n rugbywedstryd behartig het.
JohannesvdWalt3



Johannes van der Walt in die dae toe hy in rofstoei naam gemaak het.

Van der Walt is op 17 Julie 1929 met Hester Hendrina Kruger (gebore 11 Oktober 1908; sterfdatum onbekend) getroud en twee kinders is uit dié huwelik gebore, onder wie Hester Hendriena (geb. Johannesburg, 8 Oktober 1930), ’n tikster van beroep, wat op 4 Junie 1949 getroud is met Marthinus Swart (geb. Pretoria, 1 Desember 1929), ’n beroepstoeier en superintendent van die hoofposkantoor.

Van der Walt het hom deurgaans met Afrikaner-ideale vereenselwig. Gedurende die Simboliese Ossewatrek van 1938 is hy gevra om leier van ’n perdekommando te wees. Hierdie gebeurtenis het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak, want skielik was hy nie meer net ’n stoeiheld nie; hy was leier van ’n perdekommando wat besig was om hulde te bring aan ’n stoere voorgeslag.

Ná die stigting van die Ossewabrandwag-beweging (OB) begin 1939 het hy hom daarby aangesluit en gevorder tot hoof-generaal vir die Witwatersrand. Die OB is op militêre grondslag georganiseer, maar het kulturele oogmerke gehad. Dié beweging het Afrikaners se verbeelding aangegryp en ’n menigte het aangesluit.
JohannesBoek1



Van der Walt het selfs jare ná sy dood tallose Afrikaners se verbeelding aangegryp.

Ook aan die Rand het ’n organisasie tot stand gekom onder leiding van M.W. Botha, adv. Pat Jerling en ds. A.H. Stander. In die loop van 1939, en veral ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September, het die Stormjaers, die militante vleuel van die Ossewabrandwag, die oorlogspoging en regering aktief begin teenstaan deur voorvalle van sabotasie met vernuftige tuisvervaardigde brandbomme en handgranate.

Van der Walt het weldra ’n generaal in die Stormjaers geword. Waarskynlik weens die toenemende steun wat hy van die jeug ontvang het, het hy ’n gevaar vir die Suid-Afrikaanse regering onder genl. Jan Smuts ingehou. Middel 1941 het die OB en die amptelike opposie, die Nasionale Party, se weë geskei en in Februarie 1942 het die NP al sy ampsdraers verbied om lid van die OB te wees.

Op 15 Desember 1941 is Van der Walt in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hy in besit was van ’n ongelisensieerde pistool (of rewolwer) en patrone. Hy is op borgtog vrygelaat, maar twee dae later opnuut in hegtenis geneem en aangehou in die polisieselle op Marshallplein (die latere John Vorsterplein), Johannesburg, waaruit hy vyf dae later ontsnap het, volgens oorlewering met behulp van ’n bewaarder óf die Stormjaers.
JohannesUniform1



Van der Walt in sy Ossewabrandwag-uniform.

Op 23 Maart 1942 het die polisie die opstal op die plaas Rietvlei omsingel waarin hy naby Krugersdorp (of Roodepoort) geskuil het. Toe hy wou vlug, het ’n polisiekoeël sy rugmurg deurboor en hom permanent verlam. Hy is onsuksesvol geopereer.

Ná sware lyding tuis in Melville waartydens hy weggekwyn het tot ’n gewig van net 40 kg, is hy ’n jaar en twee dae ná die skietvoorval oorlede en begrawe uit die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Noord, waarvan sy vader ouderling was. Die diens is gelei deur prof. Joon van Rooy, destyds voorsitter van die Afrikaner-Broederbond.
JohannesKerk1



Tot 50 000 mense het Van der Walt se begrafnisstoet van die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Noord in Melville na die Wespark-begraafplaas gevolg.

Die begrafnisstoet na die Wespark-begraafplaas het uit tussen 30 000 en 50 000 mense bestaan en word beskryf as ’n "volksaamstrek". Sy stoflike oorskot is op die ossewa van Louis Trichardt uit die Simboliese Trek van 1938 vervoer.

Enkele maande ná sy dood is ’n grafsteen aangebring op sy graf in die Wesparkse begraafplaas, Johannesburg. Die firma South African Monumental Works was vir die oprigting van die nagenoeg 3 m hoë suil verantwoordelik. Op sy grafsteen staan: "Hy het geval as slagoffer op die pad van Suid-Afrika."