'n Dapper man

Liewe vriend en vriendin
Ek het julle nog nie vertel dat oom Nic van der Walt oorlede is nie. Op ‘n stil, sonnige middag in Julie is hy in die plaaslike
kerkhof begrawe.
Oom Nic was nog maar ‘n baba toe hy geval en sy rug so beseer het dat albei sy bene van sy knieë af onder toe verlam
is. Die gevolg was dat hy nooit weer kon loop nie en sy lewe lank op hande en knieë gekruip het.
Toe hy groot geword het, het hy geleer fietsry. Hy het ‘n saal net bokant die trap van ‘n damesfiets aangebring. Met sy een
hand het hy die horing van die fiets vasgehou en met die ander hand die trap gedraai.
Hy was ‘n skoenmaker van beroep en het baie netjiese werk gedoen. Een keer het hy in die koerant ‘n advertensie gelees
van ‘n firma in Johannesburg wat leer teen ‘n billike prys verkoop. Hy het besluit om by hulle te gaan leer koop. Op
sy fiets het hy tot die Potchefstroomse stasie gery en die fiets in die trein gelaai. In Johannesburg is hy met sy fiets van die
stasie verder – deur Eloffstraat en ek weet nie watter strate nog nie, tot by die fabriek. Toe hy by die deur van die firma
inkruip en by die toonbank orent kom, het die klerk ‘n geldstuk na sy kant gegooi. Oom Nic het die geldstuk op dietoonbank neergesit en gevra om die bestuurder te spreek.
Dit het baie verduideliking gekos om eers die klerk en later die bestuurder te oortuig dat hy nie ‘n bedelaar is nie, maar
‘n sakeman. Toe die bestuurder eindelik oom Nic se woord aanvaar het en hom heelwat meer oor sy lewe uitgevra het,
het hy onder die indruk gekom van die merkwaardige verhaal wat hy gehoor het, dat hy die leer teen ‘n grootliks verminderde prys aan oom Nic verkoop het.
Oom Nic was nooit getroud nie. Toe ‘n broer van hom jare gelede oorlede is, het oom Nic sy weduwee-skoonsuster
onder sy sorg geneem en die kinders laat leer. Een van hulle het ‘n baie bekwame onderwyser geword en het al op verskeie plekke in die kerkraad gedien.
Toe oom Nic vir hom ‘n motor gekoop het, het hy die stuurmeganisme sodanig laat wysig dat hy nie nodig gehad het om
sy voete te gebruik nie – die koppelaar, rem en petrolpedaal kon almal met die hand beheer word. Toe het ‘n mens hom
dikwels by ons dorpsdam met die geel D.K.W. sy opwagting sien maak. Hy was ‘n ywerige visserman en het graag geroei.
Dit het ‘n mens diep laat nadink as jy Sondae oom Nic by die kerk sien stilhou en met die paadjie sien aankruip het
kerk toe, die trappies op en die kerkdeur in. Met hoeveel vaardigheid (en waardigheid) het hy sy liggaam met sy twee
geweldig sterk ontwikkelde arms op die kerkbank gelig. Eendag het hy teenoor my opgemerk dat die dubbeltjies hom
steek as hy in die paadjie aankruip kerk toe. Die kerkraad het toe ‘n sementblad op die paadjie aangebring. Die ou kerk
is later gesloop, maar oom Nic se paadjie lê nog daar...Met die stigting van Potchefstroom-Suid is oom Nic na die
nuwe gemeente. Eers toe sy jare begin hoog word, het hy vir hom ‘n rystoel gekoop. Maar dit was moeiklik om met dit
in die kerk te kom. Toe het die kerkraad ‘n gehoorinstallasie aangebring wat deur die kerkvenster in oom Nic se motor
geplaas kon word, sodat hy in die motor na die diens kon luister.
Oom Nic het voor sy dood ‘n lang lyding met baie, baie pyn gehad. Sy geduld en geloofskrag was ‘n inspirasie vir die wat
hom besoek het. Sy geneesheer was ook daar. Oom Nic was in ‘n koma. “Hier stry ‘n baie dapper man sy laaste stryd”,
het die dokter gesê.
Die begrafnis wat ds. Fanie Minnaar gehou het, was eenvoudig en waardig. By die graf het Psalm 121, wat ons saam
gesing het, vir my in die lig van oom Nic se lewenswandel ‘n
nuwe betekenis gekry:
“Ek hef my oë bergwaarts heen
en staar die ure om,
tot my verlossing kom.
My hulp is van die Here alleen.
Hy, oor my lot bewoë,
is eind’loos in vermoë.
As ek oor alles nadink, word dit stil in my. Ek het ‘n man deur die lewe sien gaan wat met die kunsgreep van die geloof
dit reggekry het om van die swaarste beproewing ‘n wonderbare belewenis en in baie opsigte ‘n mooi avontuur te maak.
Of soos hyself eenmaal aan my gesê het: “As die lewe jou suurlemoene gee, maak dadelik koeldrank daarvan”.
My beste wense vir julle,
P.W.B. 

Met erkenning aan: DIE KERKBLAD GEDATEER 4 OKTORBER 1970 P.7

 http://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=1934428